wat maak ons anders?

Elkeen van ons hier by SPEELSPEEL SKOOL het ‘n passie vir kinders en ‘n opregte begeerte om positiewe veranderings aan ons onderwysstelsel te maak; gegrond op bewese beginsels van die wêreldleier op die gebied – Finland. Daarom benader ons elke kind as ‘n individu, elkeen met unieke talente en ‘n persoonlikheid om te ontgin.

Lees meer hieroor by hierdie skakel: https://www.enlightened-consciousness.com/finland-will-become-the-first-country-in-the-world-to-get-rid-of-all-school-subjects/

Maar die onderwysmetodes van Finland is veel meer as enkele, revolusionêre idees – dit is ‘n filosofie. In beginsel glo dit dat kinders so lank as moontlik net kind moet wees, dat daar nie druk op hulle geplaas word om te presteer nie, dat almal gelyke onderwys ontvang en dat elke kind op eie meriete talentvol en begaafd is. Kinders se natuurlike nuuskierigheid word omskep in ‘n liefde vir leer – nie net op akademiese vlak nie, maar ook om ‘n gesonde leefwyse en verantwoordelike interaksie met ‘n groter wêreld te hê.

Christenwaardes word gekweek en ons eerbiedig ons Afrikaanse taal en afkoms; sonder om op enige ander kultuur of geloof neer te sien.

So speel-speel leer ons kinders van ‘n groter wêreld – die towerdinge in die natuur, ‘n harde saadjie wat ‘n plantjie word, hoe sag ‘n hasie se pels is, hoe lekker dit is as ‘n maatjie dink jy is snaaks, dat ‘n juffrou ook ‘n eina kan beter soen. Ons leer dat daar kindertjies en diere is wat ons hulp nodig het en dat ons ‘n verskil kan maak aan hulle omstandighede – al is ons ook klein.